Slag van die Goue Spore

14de eeuse uitbeelding uit die Grandes Chroniques de France
Die gevegsposisies tydens die Slag van die Goue Spore
Willem van Saeftinghe dood Robert II van Artesië (voorstudie deur Nicaise De Keyser)
14e-eeuse prent uit die boek Nuova Cronica
15de eeuse prent van die Weense meester van Maria van Boergondië
Tekenening deur James Ensor uit 1895

Die Slag van die Goue Spore of Gouesporeslag (ook bekend as die Slag van Kortrijk) (Nederlands: Guldensporenslag; Frans: Bataille des éperons d'or) was 'n militêre konflik tussen die leër van die Koninkryk van Frankryk en magte van die Graafskap van Vlaandere wat op 11 Julie 1302 plaasgevind het tydens die Frans-Vlaamse Oorlog (1297–1305). Dit het plaasgevind naby die teenswoordige Kortrijk in België, en geëindig in 'n onverwagte oorwinning vir die Vlaminge.

Op 18 Mei 1302, na twee jaar se besetting deur die Franse, en 'n aantal jare van onrus, het verskeie stede in Vlaandere in opstand gekom teen die Franse bewind en Franse burgers in die stad Brugge afgemaai. Koning Philippus IV van Frankryk het onmiddellik 'n ekspedisie van 8,000 troepe, waaronder 2500 soldate, onder graaf Robert II van Artois gestuur om die rebellie te beëindig. Intussen het 9,400 man uit die burgerlike magte van verskeie Vlaamse stede byeengekom om die verwagte Franse aanval teë te werk.

Toe die twee leërs op 11 Julie buite die stad Kortrijk mekaar die stryd aansê was die berede magte van die Franse nie in staat daartoe om die goed opgeleide Vlaamse infanterie, wat met "goedendagte"[1] bewapen was, te verslaan nie. Die resultaat was 'n verpletterende nederlaag vir die Franse adellikes, wat swaar verliese gely het. Die 500 pare spore van die Franse perderuiters wat op die slagveld gebuit is, het aan die stryd sy naam gegee. Die geveg is 'n bekende vroeë voorbeeld van 'n infanterie-leër, bewapen met slegs pieke ('n tipe lans) en boë, wat 'n leër kon oorkom wat aanvalle geloods het deur middel van swaargewapende berede magte.

Historiografies is die stryd belangrik as gevolg van die rol wat dit vanaf die negentiende eeu in die Belgiese bewuswording gespeel het en die groei van die Vlaamse beweging wat daarop gevolg het. Feodale, sosiale en ekonomiese motiewe het op die agtergrond verdwyn en die konflik het gevolglik 'n nasionalistiese karakter verkry. 'n Belangrike bydrae tot die kollektiewe bewuswording van hierdie gebeurtenis in Vlaandere is ook gelewer deur Hendrik Conscience se roman De leeuw van Vlaanderen (1838), wat 'n geromantiseerde beeld van hierdie stryd skets.

Gedurende die 19de- en 20ste eeu het die Slag van die Goue Spore 'n belangrike kulturele verwysingspunt vir die Vlaamse Beweging geword. In 1973 is die datum van die geveg gekies as die amptelike vakansiedag van die Vlaamse Gemeenskap in België.

  1. 'n Goedendag is 'n wapen wat oorspronklik in die 14de eeu deur die burgermagte van Middeleeuse Vlaandere gebruik is, veral tydens die Frans-Vlaamse Oorlog.

Developed by StudentB